November 2023 was ’n hoogtepunt in my lewe. Ek het Die Munga, ’n bergfietsresies van 1129 km wat binne 120 uur voltooi moet word, klaargemaak en in die 70ste plek geëindig. Dit was ’n bewys van my jare lange fiksheid, uithouvermoë en vasbyt. Wat ek egter nie geweet het nie, was dat net twee maande later my lewe radikaal sou verander. In Januarie 2024 lê ek in die ICU met hartversaking. My hartfunksie was minder as 10%, en my hart was vergroot en het onreëlmatig geklop.
’n Nuwe Pad Vorentoe
Die afgelope jaar was ’n rollercoaster van fisiese uitdagings, mediese ingrepe en geestelike groei. In April 2024 het ek ’n pasaangeër gekry om my hart te help. In Julie is ’n ablasie gedoen. Tot op hede het ek al 3630 pille gesluk – en tog is my herstel stadig. My hart funksioneer steeds net op 20%. Ek voel dit daagliks: Duiseligheid en die beperkinge van fisiese inspanning is deel van my lewe, maar dit is nie al wat my lewe definieer nie.
Die Krag van Dankbaarheid
Daar is soveel redes om dankbaar te wees. Ten spyte van my hartversaking kon ek self by die hospitaal instap. Nou, met 20% hartfunksie, kan ek steeds rondloop, bestuur, kantoorwerk doen en selfs ligte oefening aanpak. Dit mag vir ander klein oorwinnings wees, maar vir my is dit tekens van seëninge.
Ek het onlangs met iemand gesels wat nege jaar gelede ook net 20% hartfunksie gehad het. Sy was toe in ’n rolstoel en kon nie eens praat nie. Vandag is haar hartfunksie 55% en leef sy weer voluit. Haar verhaal gee my hoop – en ek glo my fiksheid het my ook al baie gered.
’n Les uit Die Munga: Uithou en Aanhou
My kardioloog het my vertel dat ek tot Mei 2025 moet wag vir ’n opvolgafspraak. Hy het ook eerlik gesê dat ek nie te veel moet verwag voor daardie tyd nie. Hierdie is die “vervelige” tyd van vasbyt. Maar as Die Munga my enigiets geleer het, is dit die krag van aanhou, selfs wanneer dit moeilik is. Elke kilometer tel, en elke tree vorentoe is belangrik – ook op hierdie pad van herstel.
Om Te Lewe Voluit – Al Is Dit Net 20%
Wat ek oor die afgelope jaar geleer het, is om die 20% wat ek het voluit te benut. Ek kan tob oor die 80% wat ek verloor het, of ek kan kies om vreugde te vind in wat ek wel kan doen.
Ek het ook my prioriteite hersien. Ek kyk anders na sukses, na prestasies, en selfs na die lewe self. Ek het onlangs ’n grappie gehoor wat my laat glimlag het:
“Die oom en tannie stap in die hemel rond. Die tannie kan nie uitgepraat raak oor hoe wonderlik en pragtig alles is nie. Ná ’n ruk sê die oom: ‘Jy met al jou gesond eet – ons kon al 10 jaar terug hier gewees het!’”
Dit het my laat besef dat die lewe meer is as net om alles reg te doen. Soms moet ons ook net leef, geniet, en die mooi in elke dag raaksien.
’n Geestelike Perspektief
Ek het baie oor die lewe en die dood begin nadink. Maar ek het ook vrede daarmee gevind. Paulus se woorde in Filipense 1:20-21 het vir my ’n nuwe betekenis gekry:
“Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”
Ek leef nie met vrees vir die dood nie, want ek glo ons is reeds besig om vir ewig te lewe. Wat ’n voorreg om steeds hier te wees, om nog goeie dinge vir Hom te doen, en om elke dag as ’n gawe te sien. ’n Goeie vriend van my, Bennie, het nie sy hartprobleme oorleef nie. Maar ek is steeds hier – en ek weet ek het ’n doel.
Vasbyt en Vertrou
Die pad vorentoe is lank, maar ek het tyd. Ek vertrou dat my hartfunksie sal verbeter. En selfs al gebeur dit nie, weet ek ek kan steeds voluit leef met wat ek het. Elke dag is ’n kans om te groei, om ander te inspireer, en om dankbaar te wees vir die klein oorwinnings.
Vir nou is dit my seisoen van vasbyt. Maar ek weet – net soos in Die Munga – elke tree vorentoe bring my nader aan die doel.
Groete
Cordré