Ek is reeds besig om vir ewig te lewe. Op een of ander stadium gaan ek nie meer my aardse liggaam nodig hê nie. Ek weet die Hiernamaals gaan beter wees as enigiets wat ons hier kan ervaar, maar dit beteken nie dat ek onverskillig staan teenoor die lewe wat God ons op aarde gegee het nie. Hy het ons hier geplaas om Hom te loof, te eer, en om ons medemens te dien.

Wanneer my tyd aanbreek, en ek nie meer my organe nodig het nie, kan dit dalk vir iemand anders net ’n bietjie ekstra tyd koop. Tyd om genesing te vind, tyd om geliefdes vas te hou, of dalk tyd om vir die eerste keer Jesus te ontmoet. Tyd om te leef en God te loof – en miskien selfs verlore siele na Hom te lei.

Ek wag self op ’n orgaanskenker. Dit laat my besef dat ek ook bereid moet wees om my organe te skenk. Ek het lank gevoel ek “moet dit nog doen”, maar het dit altyd uitgestel. Die waarheid is: solank ek asem haal, is dit nog nie te laat nie.

Om orgaanskenker te word is ’n besluit wat jy vandag kan neem. Praat daaroor met jou gesin, want hulle sal die finale sê hê wanneer die tyd aanbreek. Hierdie besluit kan hoop bring waar daar wanhoop was, en lig waar daar duisternis was.

Augustus is Orgaanskenkingsmaand. Dis ’n perfekte tyd om jou naam op die lys te sit en die geskenk van lewe te gee. Jy hoef nie jou organe nou te skenk nie – slegs op die dag wanneer jy dit nie meer vir die aardse lewe nodig het nie.

Deur hierdie stap te neem, sê jy ja vir liefde, ja vir hoop, en ja vir ’n nalatenskap wat lank ná jou laaste asem steeds sal voortleef.

– Cordre Smith (Basuin)